top of page

Get your advertisement here! 

Antoinette se ‘ougoed en hougoed’

Voor die groot skuifhek vang jou oog die prettige tuintjie van geel, turkoois en pers geverfde buitebande. Dan omhels die skadu van ‘n Oupagrootjie worsboom jou in ‘n wêreld vol versigtig bewaarde skatte.



Dit is die huis van Grootfontein se Zahradniky’s – waar  ‘ougoed en hougoed’ ‘n nuwe lewe  kry.

Antoinette is op die geskiedkun-dige datum van 16 Desember 1954 gebore – in ‘n ewe geskiedkundige klipgebou, wat voorheen Grootfontein se eerste hospitaal was en vandag ’n Duitse koshuis.  Dalk was haar geboortedag ‘n teken van die voorliefde wat sy vir geskiedenis sou ontwikkel. “Al was ek nog nie toe gebore nie, het ek baie oudhede,” merk sy op. Sy wys ‘n versameling plakboeke waarin sy “alles wat vir haar ná aan die hart is” bewaar: Haarlokkies van haar drie kinders se eerste haarsny tot herinneringe van toe sy as ‘n 25-jarige vrou ‘n plaasaanval saam met haar ouers oorleef het – met haar eerste kind wat toe nog net 18 maande oud was.

In die plakboeke ontmoet jy ‘n besonderse mens met ‘n fyn sin vir humor – met ‘n gawe om die ongewone raak te sien.

Die boeke bevat ‘n versameling bont paaseierverf in sakkies - die eerste een wat sy nog by haar ma gekry het. Daarby ook ‘n tong-in-die-kies opmerking oor die prysverskil tussen die eerste sakkies en die vandag se pryse.

In die kombuis “hang” die verlede oral teen die mure. Dit sluit in ‘n verweerde handgemaakte vleisbyltjie wat uit die tyd van die Tweede Wêreld-oorlog kom toe alles  skaars was en baie dinge self  gemaak moes word. Sy wys ‘n meelsif wat Karl Dengler ook tydens die Tweede Wêreld-oorlog gemaak het.

“Toe was slegs growwe meel beskikbaar - ‘n probleem vir koekbak.  Daarvoor moes die meel eers gesif word,” onthou sy.

Antoinette het onlangs ook saam met ‘n span gesorg dat die geskiedenis van die NG Kerk op Grootfontein lewendig bly. Onder haar bekwame leiding is ‘n resepteboek saamgestel as geskenk vir die kerk se 80ste verjaarsdagvieringe. Sy is juis ‘n versamelaar van resepte en is lief daarvoor om dit uit te toets.

In haar woorde: “Die boek is vol resepte van mense wat nie meer met ons is nie, maar hul resepte leef voort.” Daarom is op die titel Grootspoor Onthou Resepte besluit.

By die Zahradniky’s lééf die ‘onthou’ voort. Selfs Antoinette se besondere versameling van uil-beelde verteenwoordig elk-een ‘n stukkie onthou.

Dis moeilik om te groet, want jy wil nog ‘n bietjie tyd in die warmte van al haar herinneringe en mooi ’onthou’ bestee, wat so vrylik uit Antoinette se menswees vloei. Eendag sal “onthou” tog al wees wat van ons almal oorbly.

Kommentare


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest
bottom of page