Hou bene, hou!
- 067triangle
- Feb 1, 2023
- 2 min read
Updated: Oct 27, 2023
“Toe neem ek maar deel, teen my wil, eintlik . . ." - Ian Malan

“Om te dans voor mense op ‘n verhoog is nie iets wat ek myself ooit sou indink om te doen nie.
"Ek het eers geweier, maar toe maar later ingegee. Toe draai dit uit dat die mense van my bene gehou het.”
So vertel Ian Malan (23), wat onlangs op Otjiwarongo se Sekelbos TOPS fees as Mnr. Sekelbos Bene aangewys is.
Amper daarsonder
Dit was egter so amper of die fees sou maar sonder dié bene moes klaarkom.
Ian sê hy sou die Saterdag by die huis gebly het en ‘n rustige braai gehou het, maar ‘n vriend het voorgestel hulle ry die middag deur tot op Otjiwarongo na die fees toe.
“Ons het van die Mnr. Bene-kompetisie gehoor, maar is nou nie mense wat regtig aan so iets deelneem nie.
“Toe daar egter ‘n klomp mense op die verhoog is, het hulle nog mense gesoek.
"Toe kom daar ‘n meisie na my toe en haal my uit die crowd uit. Ek het nogals ‘n kort broekie op die dag aangehad,” lag Ian.
“Toe neem ek maar deel, teen my wil, eintlik.
"Ek is nou nie so groot daarop om op die verhoog rond te loop nie,” praat 'n man wat sekerlik elke dag met die regte been uit die bed klim.
“Ek is nie baie skaam oor my bene nie en ek hou daarvan om ‘n bietjie vleis te wys, maar dit is nou nie regtig vir my ‘n groot prestasie nie. Dit voel wel lekker om darem krediet vir jou harde werk te kan kry.”

Been-af op boerdery
Ian speel rugby vir die Grootfontein rugby-club en volg ook ‘n streng Cross-Fit-program by Grootfontein Biokinetics (sien die advertensie op voorblad) maar eintlik is hy ‘n voltydse boer.
“Ek kan my nie in ‘n ander beroep sien nie,” sê Ian, wat saam met sy pa Klaas en broer Morné in die Grootfontein-vallei boer – hoofsaaklik met mielies, maar ook met beeste.
Hy het reeds op skool begin rugby speel en nadat hy by die boerdery aangesluit het, besluit om dit weer te doen vir ‘n bietjie afleiding. Hy was op Outjo in Moria Privaatskool.
Hy is passievol oor die sport en glo daar is ‘n blink toekoms vir plattelandse rugby, met spelers wat so ver as vanaf Outjo, Rundu en Tsumeb kom om op Grootfontein te kom rugby speel.
“Soms is daar nie baie op die platteland te doen nie. Ons jongmense kan egter die dryfkrag wees om dit interessant te maak," meen Ian.
Hy sê feeste hoef nie altyd net uit 'n tradisionele braai en 'n dans te bestaan nie.
"Iets soos ‘n Mej. Sekelbos of ‘n Mnr. Sekelbos Bene kan dalk een of twee meer mense na 'n fees toe bring, wat dit andersins dalk nie sou bywoon nie.
"Boonop haal dit jou uit jou comfort zone uit,” sê Ian.



Comments