'Sirkus' kom Grootfontein toe
- 067triangle
- Jul 25
- 3 min read
Die Grootfontein Skou vind vanjaar plaas van 17 tot 19 September 2025, met ’n vol program wat iets vir elkeen bied. Behalwe vir die tradisionele bees-, kleinvee- en perdeskou, is Grootfontein vir die derde agtereenvolgende jaar die trotse gasheer van die Nasionale Saalperdkampioenskappe. Afgesien van dié hoogtepunt, sal daar ook Vries-, Vlaam-, Arabier- en kruisperde op die skou te sien wees.

Landbou en tegnologie in fokus
Boere en landbou-entoesiaste kan uitsien na ’n reeks akkerbou-praatjies wat by die Inteligro-trein aangebied word. Op die uitstallingsterrein word verskeie trekker- en implementvervaardigers verwag, sowel as landbou-ondernemings wat spesialiseer in:
· e-voertuie
· geëlektrifiseerde heinings,
· besproeiingstelsels,
· saad en ander akkerboubenodigdhede,
· ontbossingsdienste,
· algemene plaastoerusting,
· en landbouversekering.
Vir die fynproewers wag ’n verskeidenheid kosstalletjies – van egte braaivleis tot vars seekos.
Die skou bied ook hope vermaak. Vir kinders wag die splinternuwe Prime Steel Skoutreintjie – ’n saamrygeleentheid wat beslis gewild gaan wees. Spring- en waterkastele sal gereed staan, en die immergewilde spookhuis maak weer sy verskyning.
Vir die dames word ’n spesiale vrouepraatjie en demonstrasie met grimering beplan, asook uitstallers wat onder meer klere, juwele, geskenke, leerprodukte, handsakke en boeke aanbied.
Skoupresident gee oorsig
“Grootfontein Skou 2025 se tema is sirkus want ons (of dan meeste van ons) onthou nog uit ons kinderdae die afwagting, die opgewondenheid en die slapies aftel totdat ons as gesin “gaan sirkus” het!” gesels Nita Pretorius, wat sedert 2023 die leisels as skoupresident oorgeneem het.
“Die sirkus-plakkate het ons al laat begin dink en droom! Wanneer die groot tent eers opgeslaan was, was dit vir ons ‘n heel nuwe wêreld. Die laaste een wat ek kan onthou, was regs van die pad op pad Natis toe. Onthou nou – ons praat van ‘n tyd toe daar nog geen TV, slimfone, Google of allerhande tegnologie was nie.
“Dit is die opwinding wat Grootfontein Skouvereniging se 2025-komitee vir Grootfontein en sy omliggende dorpe wil bring. Vanaf 1911 is dit min of meer wat elke komitee probeer doen het: Om aan ons gemeenskap iets te bring wat jou vir drie dae laat vergeet van die daagse stryd om kop bo water te hou.
“Kinders ken nie meer van slapies aftel nie – vandag moet feesorganiseerders regtig baie fondse hê om te kan kompeteer met dit waartoe ons en ons kinders vrye toegang toe het deur middel van tegnologie,” sê Nita.
Nita sê hulle kry gereeld die vraag: ‘Gaan daar ’n Merry-Go-Round wees?’ “Ongelukkig nie. Teen ’n kwotasie van N$1,3 miljoen – net om dit tot by ons dorp te bring – is dit eenvoudig buite ons bereik. Maar dit gaan ons nie laat moed verloor nie. En dit beteken ook nie dat ons iets halfhartig of afgewater gaan aanbied nie. Grootfontein en baie plattelandse dorpe het ‘n gemeenskap wat saamstaan in moeilike tye. Ja, dwarstrek ook, maar ons as ‘n komitee werk met saamstaan.
“Ons werk met mense wat ‘n verskil wil maak. Aan die einde van die dag moet ons onsself afvra, wat doen ek en jy om Grootfontein lekker te maak. Dis met trots, afhanklikheid en nederigheid wat ons as skouvereniging hierdie gemeenskap dien en dikwels met ‘n bewing in die hart en klip in die maag iets nuuts probeer aanpak.
Vanaf Dinsdag 16 September 2025 begin die lewendehawe lorries aankom, Woensdag hou ons ‘n groot vlotoptog met almal se lag en deelname waar kwaaivriende vergeet van onbenullighede en daarna ‘n amptelike opening en prysuitdeling. Op die skouterrein is ons dankbaar vir talle uitstallers, vol sale en heerlike kindervermaak terwyl ieder en elk lekker langbeen sit kuier. Dan is jy saam met jou buurman bly oor sy prestasies, terwyl ons lekker eet en tussen-in dankie sê aan ons Hemel Vader vir ‘n uitsonderlike geseënde reënjaar.
“Dankie Grootfontein Skoukomitee – julle is DIE BESTE. Dankie dat ons nooit vergaderings met rusies het nie. Dankie dat een ‘n deeltjie van ‘n legkaart kan bring, en almal dan aanvul tot ons DV 17 tot 19 September ‘n SKOU kan aanbied.
“Aan ons Vader die eer, vir voorsien, vir gesond hou, vir liefde en vir afwagting. Mag jy ons skou kom bywoon en ons help om Grootfontein net sommer LEKKER te maak!”
Comments