Geskiedkundige noordekerkie te koop
Vertel van spookstories, afsydige Engelse en heimwee
Terwyl opknappingswerk die ou Engelse kerkie opnuut pronkerig op Grootfontein se bult laat staan – soos in sy gloriedae van meer as 70 jaar gelede - het die aankondiging dat dit nou weer te koop is, die noordedorp opnuut aan die gons.
Spookstories van toe die kerk jare lank leeggestaan het, maak vinnig plek vir heimwee oor die destydse Anglikaanse-kerkie van die South West African (SWA) Company, wat sy hoofkwartiere in 1893 op Grootfontein gevestig het en waarvan die mense glo ietwat afsydig van die res van die dorp gewoon het.
“Ek moes vir langer as ‘n jaar aan die vorige eienaars se deur klop om die kerkie te kon koop,” vertel die huidige eienaar, Hans Steyn. “Dit is meer as 20 jaar gelede. Ek het toe die plafon uitgehaal en seker 50 vragte vlêrmuismis daar weggery.”
Intussen was die kerk al in ‘n koffiewinkel en meer onlangs in ‘n gesellige woonhuis omskep. Binne in die sitkamer staan die ou, swaar doopbak steeds en die houtdeur van die ou gesloopte Nord Hotel is die badkamerdeur. Buite is ‘n ewe gesellige tuintjie uitgelê met ‘n goedversorgde grasperk en olyfbome asook ‘n klein, Romeinse swembad.
Oor die spookstories tydens die kerkie se leegstaanjare, lag Hans. “Die teeltjie in die kerk, wat kinders vertel het knip vir jou oog as jy daarna kyk, is nog steeds iewers in die kerk.”
Ander vertel deur die venster het dit gelyk het of daar altyddeur mense in die leë kerk sit, wat skoolkinders vinniger verby laat stap het. “Hulle het gesê dit spook daarbinne,” vertel Lettie du Plessis, ‘n oud-inwoner wat voorheen in die huis digby die kerk gewoon het. “As jy binne die kerkie oor iemand se skouer kyk, sien jy glo iemand hang. My pa-hulle het een aand om middernag gaan kyk, toe ‘pass’ die ou uit oor wie my pa se skouer kyk van bangeit!”
Geskiedkundige gebou
Ofskoon die kerk eers in 1952 gebou is, het dit deel gevorm van “Klein Engeland”, soos Grootfonteiners spottenderwys verwys het na die SWA Company se eiendomme, vertel ds Dirk de Vos van Grootfontein se NG-kerk. “Dit was die maatskappy se ‘main kantore’ en het gestrek al die pad van die hedendaagse Karl Albrecht-ouetehuis tot by die kerkie, met die hoë mense se swierige huise aan weerskante van die laning.”
Volgens beskikbare literatuur het die SWA Company Grootfontein in 1893 sy hoofkwartiere gemaak en vir lank ‘n “heilsame invloed” op die omgewing uitgeoefen. Brittanje het ‘n meerderheidsaandeel in die maatskappy gehad, alhoewel dit ook Duitse aandeelhouers gehad het. Die SWA Company het verskeie sakeondernemings op die dorp bedryf, wat die bestuur van die Abenab-myn asook die bou van die treinspoor van Otavi tot op Swakopmund ingesluit het.
Op Sondag 10 Augustus 1952 het ene biskop John van Damaraland die hoeksteen van die klein, gesellige kerk gelê. Niemand kan egter bevestig of dit waar is dat ‘n bottel met onbekende dokumente agter daardie hoeksteen toegemessel is nie.
Voor die kerk gebou is, is eredienste in die eetkamer van die hoof van die organisasie se huis op die bult gehou – ‘n huis met Viktoriaanse meubels wat glo herinner aan die herehuise van die destydse Engelland en waar ‘n hoë leefwyse deur amptenare gehandhaaf is.
Praatjies was dikwels in die ‘onderdorp’ aan die rondloop oor die swierige dinees op die bult waar selfs die borde warm gemaak word deur die ietwat afsydige Engelse – skryf C.J. Mouton in sy boek Togte in Trekkersland.
In All the way to Abenab vertel Frank Haythornthwaite in die vyftigterjare oor sy aangename verblyf in die herehuis teenaan die kerkgronde “waar ons onlangs ‘n pragtige, klein kerkie” gebou het.
Die SWA Company het naderhand uit die dorp onttrek en die kerkie aan die gemeenskap geskenk. Talle oud-inwoners koester steeds mooi herinneringe aan die kerkie. “Met besondere liefde en heimwee dink en aan hierdie kerkie waar ek, my broer en suster gedoop en voorgestel is. ‘n Warm hartlikheid en oorweldigende rustigheid het ‘n mens daarbinne oorval. Die geur van die kerse sal my altyd bybly,” vertel Emily de Jager.
Markus Prickett, wat saam met sy vrou Ulli aan stuur van sake van Grootfontein se museum staan, vertel hy en sy ouer suster het ook as kinders na die kerk toe gegaan.
Belangstellende kopers kan vir Hans Steyn by 081 279 1599 kontak.
Comments