Vyf vrae vir 'n byeboer
Otjiwarongo se byeboer Dieter Radeck is sekerlik die grootste byeboer in die Otjozondjupastreek enook een van die land se grootste én bekendste byeboere. Vir meer inligting, besoek sy Facebook-blad by Beekeeping Radeck.

1) Vertel asb. wie is jy en oor jou eie byeboerdery?
Ek is Dieter Radeck, ek is in Otjiwarongo gebore en op skool gewees. Ek het aanvanklik eers bietjie in die wêreld “rondgeploeter” voor ek in 2010 teruggekeer het Namibië toe. Ek het agt jaar gelede met bye begin – as ‘n stokperdjie, met net een korf agter my slaapkamer se venster. Van 2020 het ek toe besluit om voltyds in byeboerdery in te gaan en my beroep as ‘n sjef en my restaurant op te gee.
2) As jy 'n byeboer wil word, waar begin jy?
As jy ‘n byeboer wil word, beveel ek aan dat jy eers ‘n kursus oor bye moet doen.
Daar is so baie faktore en dinge wat ‘n mens oor bye moet weet. Anders sal jy jou swerms almal op die een of ander manier verloor en jou bye sal wegtrek.

3) Hoe verdien byeboere 'n inkomste?
In Suid-Afrika word “bestuiwingsdienste” deur byeboere gebied – waar hul bye groot landerye bestuif. Dit is een van die vernaamste bronne van inkomste vir byeboere in die buurland, maar by ons is dit baie moeilik om bestuiwingsdienste te lewer, omdat die afstande in ons land so groot is.
Boonop het ons te min byeboere om die soort diens op ‘n groot skaal te kan lewer.
Ekself fokus meer op heuningproduksie. Namibiese heuning word as van die beste in die wêreld beskou omdat ons natuur nog grootliks ongeskonde is, met ‘n skoon lug en bome, bosse en blomme in ons veld.
Ander bronne van inkomste met 'n byeboerdery is byewas. Om byewas op grootskaal te produseer, moet die bye 8 kg heuning indra om 1 kg was te produseer. Byewas word in naaldwerk, houtwerk asook in leerlooiery gebruik.
Ek weet van vrouens op Swakopmund wat hul eie lipbalm van byewas maak. Groot fabrieke soos Phabupharm op Otjiwarongo gebruik ook byewas in hul produkte. Hulle moet dit uit Suid-Afrika invoer, wat dit op grootmaat kan produseer.
‘n Ander bye-produk is propolis, waarvoor daar op internasionale markte tot N$300 vir 100 g betaal word.
Dit word dikwels in mediese produkte gebruik omdat dit ‘n natuurlike anti-bakteriese produk is, asook in tandepasta.
Daar word baie navorsing gedoen oor byegif se vermoë om borskanker klaarblyklik in ses dae te vernietig. Byegif kan ook van jou bye geoes word.
Daar is dus baie potensiaal om ‘n inkomste uit byeboerderye te maak.

4) Watter kursusse behoort voornemende byeboere te volg?
Ek beveel nie aan dat mense kursusse oor die internet uit Duitsland of Amerika volg nie. Woon ‘n kursus by wat vir Namibiese byeboere pasgemaak is.
Daar is meer as 200 000 verskillende bye in die wêreld – nie almal steek nie, maar almal maak ook nie heuning nie. Agra Provision bied plaaslik baie goeie kursusse oor byeboerde- rye aan.
5) Daar is nou ook 'n Byeboerdery Verenging van Namibië (Ban) gestig. Moet mense betrokke raak?
Die Byeboerdery Vereniging bestaan nou eers ‘n jaar.
Vroeg in Maart is die eerste jaarvergadering gehou.
Ek sou egter sê: Almal wat in byeboerderye belangstel of met bye boer, word aangemoedig om by die vereniging aan te sluit. Byeboerderye in Namibië is nog jonk, maar dit groei jaarliks en daar is groot belangstelling. Sluit aan om die sektor te bevorder - vir ons asook vir toekomstige boere, want dit is goed vir ons bye, vir ons ekostelsel en ook vir die res van die land.


Comments