Varkies nou Van Vuuren se passie
- 067triangle
- 2 hours ago
- 4 min read
Van melkery tot varkboerdery
Kunene Piggery was nie ‘n beplande boerdery vir Ian van Vuuren en sy seun Ben-Louis nie. Dit het ontstaan omdat hulle nog ‘n geleentheid gesien het en ook omdat hulle nie kon stilsit nie.
Ian is in Outjo gebore, het daar grootgeword en sy laerskool-loopbaan voltooi.
Toe hy met hoërskool begin het, het hy Windhoek toe gegaan - na die Hoër Tegniese Skool (HTS).
Ek wou n werktuigkundige word, want ek was baie goed met my hande.
Na skool het ek by die spoorweg gewerk.
Ek moes toe weermag toe vir my twee jaar diensplig. Daarna is ek weer terug spoorweg toe.
Daar het ek myself in vier ambagte gesertifiseer. Ek het die brandstof- en dieselwerktuigkunde , draaibank, verkoeling en elektriese ambag gedoen, vertel Ian.
In 1985 het hy met Rentia in die huwelik getree en twee kinders is gebore.
Ian het die besigheid wat hy in Windhoek gehad het, net voor die Covid-19-pandemie ver-koop en n stukkie grond net buite Outjo gekoop.
Boerdery
“My pa was al die jare ‘n boer, en boerdery is in my bloed. Dit was altyd ‘n plan om ’n stukkie grond te koop en te boer. Die lewe op ‘n plaas doen ‘n mens net goed.” Ian en Rentia het saam met Ben-Louis en sy vrou Malanie Outjo toe vertrek en ‘n melk-boerdery begin.
“Nadat ons met die melkery begin het, het ons gesien ons het nog ‘n bietjie tyd op ons hande, en met groente begin boer. Ek is self baie lief daar-voor om iets in die grond te sit en te sien hoe dit groei, en om die resultate te sien. Ek hou van plant. En soos dit nou maar is, is daar altyd melk wat suur word of van die groente wat vrot word. Ons het besluit om ‘n vark of twee aan te skaf,” sê Ian.
Varkboerdery
Hulle het met drie varke begin, wat vinnig vermeerder het. “Mense het kom vra of hulle nie ‘n vark kan koop nie. Die vraag na varkvleis was op daardie stadium baie hoog in die land omdat daar ‘n groot tekort aan varkvleis was.
“Ons het toe besluit om die melkery te verkoop. “Dit is ‘n baie arbeidsintensiewe besig-heid, maar nie ’n baie winsgewende een nie omdat ons te veel melk en jogurt van Suid-Afrika af invoer.
“So die melkery is verkoop, en ons het al ons energie in die varkboerdery ingestoot,” vertel Ian.
Beginjare
Hulle het begin met twee geboue wat elk 50 meter lank is en 100 sog-eenhede het. Dit bestaan onder andere uit ‘n afdeling vir die bere, sog-eenhede vir die sog en haar werpsel klein varkies, en dan die slagvarke. Intussen het Kunene Piggery uitgebrei en spog hulle nou met 150 sog-eenhede met sowat 1 300 varke.
“‘n Varkboerdery is geweldig veeleisend en benodig aandag 24 uur per dag, 365 dae ’n jaar. Die varke moet elke dag kos kry. Daar moet na hulle omgesien word. “Die sôe en hulle kleintjies moet elke dag nagegaan word. Dit is soos ‘n hospitaal, jy loop elke dag die rye op en af en kyk na die varke.
“As een nie lekker voel nie, moet jy uitvind hoekom nie en wat fout is, en hom spuit of behandel.”
Volgens Ian is die grootste uitgawe die kos, want die varke moet goeie kwaliteit kos kry sodat hulle vinnig ‘n gewig van 100 kilogram kan bereik om geslag te word.
“Om elke varkie groot te maak, moet die kos van goeie kwaliteit wees, anders sal die boer sukkel om hulle groot te kry.
“Genetika en goeie kondisies vir die varke speel ook ‘n baie belangrik rol.
“Al ons huise het klimaatbeheer, want as dit te warm is, vreet hulle te veel en vernietig hulle jou wins. As dit te koud is, vreet hulle nie, en dan verloor die varke kondisie, wat nie goed is nie.”
Nog ‘n baie belangrike punt van ’n vakboerdery is die sekuriteit om te vermy dat die African Swine Flu- virus uit-breek. Jy stort voordat jy die huise betree, jy loop deur waterbaddens met jou skoene en was gedurig jou hande, vertel Ian.
Hoogtepunt
“Een van die hoogtepunte is wanneer jy ‘n sog geinsemineer het en om te sien hoe die werpsel lyk waaraan sy geboorte gee. Ons hou noukeurige rekords van elke sog en haar werpsel. Van al die varke wat gebore word, moet jy weet wanneer hulle gebore is en hoe oud hulle is. Soms kry jy ‘n rekord werpsel.
Ons grootste werpsel was 21 varkies. Die uitdaging dan is om almal groot te kry. Jy sit by hulle en sit die varkie op die sog sodat die kleintjie suig, en dan kyk jy en maak seker dat almal genoeg kry.
“Die werk is baie intensief, en wanneer ander mense op ‘n vakansiedag braai of op vakan-sies by die see is, is die Van Vuurens by hulle varke.
“Ons het mense, maar keer-op-keer moet jy hulle bel om te kom kyk of om te kom help.
“As daar ‘n sog sukkel om geboorte te gee, dan sit jy die nag om en help. “Was ek al spyt, sou ek dit weer doen? Nee, maar nou is ons hier en maak ons die beste van ons besigheid. Ons dink selfs daaraan om uit te brei.
Produkte
Kunene Piggery voorsien ham en spek aan Outjo en die plaaslike mark.
Hulle verkoop alles van die karkasse van speenvarke vir die Kersfeestafel, tot ’n karkas vir die maak van salami of ander vleisprodukte wat varkvleis benodig.
Die karkasse wissel tussen 10 en 100 kilogram en word self by ‘n geregistreerde slagpale geslag. “Ons kan ongelukkig nie uitvoer nie omdat ons nie ‘n geregistreerde uitvoer slag-pale vir varke het nie,” sê Ian.
Comments