Tsumeb se Alex stap vir depressie
“Om aan die gang te kom is moeilik, maar as jy eers weer aan die beweeg is in die regte rigting, dan vergeet jy gou weer van hoe moeilik dit was om te begin."

Die 23-jarige Alex Gous, wat vir die bewusmaking van depressie onder mans van Tsumeb tot op Swakopmund stap, was die afgelope Maandag reeds in die Outjo-distrik.
Gous het op Vrydagmiddag 9 Desember van die Farmhouse Deli op Tsumeb vertrek en hoop om teen 24 Desember by die see aan te kom. Hy stap van Tsumeb na Otavi, al langs die treinspoorpad, en daarvandaan na Outjo, Khorixas, Uis, Hentiesbaai en Swakopmund.
Sy pa Andries, wat deurentyd ondersteuners op Facebook en op Instagram (alexflexg99) op hoogte van sy vordering hou en ook ‘n ondersteuningskar vir hom ry, het láát Maandag laat weet dat hy ‘n stewige 52 km vir die dag afgelê het, maar dat sy voete en lyf seer was.
Hy het toe reeds 168 km van die beplande 600 km afgelê.
“Om aan die gang te kom is moeilik, maar as jy eers weer aan die beweeg is in die regte rigting, dan vergeet jy gou weer van hoe moeilik dit was om te begin,” het sy pa vroeër Maandag geskryf.

"Wanneer dit moeilik raak, vat een tree op ‘n slag. ‘n Mens kom ver met een tree op ‘n slag,” het Gous geskryf.
Deur die staptog wil Gous die boodskap by mans tuisbring dat dit nie ‘n swakheid is om oor jou emosies te praat nie.
Inteendeel, dit is veel beter om dit te deel, vóór dit dalk 'n veel erger, hartseer nagevolg kan hê.
Gous sukkel nie self met depressie nie, maar hoop om deur die staptog mans en jong seuns te motiveer om meer dikwels na hul vriende uit te reik.

Comments