Troy kry sy prostese
Genoeg geld is ingesamel sodat Troy, die Belgiese Malinois van Grootfontein, sy prostese sal kan kry.

Dit volg nadat die opgeleide spoorhond op 15 April geskiet is terwyl hy besig was om die spoor van vermeende diewe te volg.
Troy het wonderbaarlik oorleef, maar in die proses sy regter voorbeen verloor. Troy is ‘n ingevoerde hond en etlike duisende N$ werd.
Intussen het sy eienaars besluit om vir hom ‘n prostese te maak, juis omdat hy vinnig moeg word om sonder sy voorbeen oor die weg te probeer kom. So ‘n prostese kom egter teen ‘n prys – sowat U$D1 900 (meer as N$34 500), sê sy eienaar, Cheré van der Merwe.
Die prostese maatskappy het 'n fonds geskep genaamd "GiveButter" om die bedrag geld in te samel. Ons kon daarin slaag! Voorts sal dit nou tussen vier en tien werksdae neem om ‘n gietstel (casting kit) vanuit Amerika tot in Namibië te vervoer. Daarna sal ons ‘n gietvorm maak en dit terugstuur.
“Daarvandaan sal dit ses tot agt weke neem voor Troy sy prostese het. Ons sal hom vir ‘n maand lank aan die prostese – eers sonder die voetstuk – gewoond maak. Daarna kom die voet by en sal hy weer die gebruik van ‘al vier sy bene’ hê,” het Cheré gesê.
“Troy sal ons as familie op die plaas beskerm en spoorsny, maar ons sal nooit weer dat hy ‘uit’ werk nie. Ons het gesien hoe mense regoor Namibië kan saamstaan en hande vat. Ek sal ewig dankbaar wees daarvoor,” het Cheré gesê. “Ons wil net weer sê baie, baie dankie vir elkeen se bydrae en elke boodskap. Ons waardeer dit uit die diepte van ons harte.”
Comments