Outjo se goue stem
“Dit voel so onwerklik en lekker, ek dink nie dit het al regtig deurgedring dat ek gewen het nie. Ek het dit glad nie verwag nie, daar was ‘n klomp kinders wat baie goed kon sing.”
Só gesels Outjo se 13-jarige Magdaleen Pretorius wat vroeër vandeesmaand opslae gemaak het toe sy as die wenner van die sangkompetisie Voice of Namibia Kidz in Windhoek weggestap het.
Volgens die eienaar van Voice of Namibia, Alinda Lu'Mar, is Magdaleen ‘die volle pakket’. “Sy sing pragtig, maar is nederig. Sy is spontaan en het 'n natuurlike talent wat haar sang lieflik maak om na te luister!” het Alinda gesê.
Magdaleen vertel een van haar maats het aanvanklik na haar toe gekom en gevra of sy aan die kompetisie wil deelneem.
“Ek is baie lief vir sing. Ons sing baie graag in ons familie. Ek kry al sedert Oktober verlede jaar opleiding oor internet by ‘n tannie in Pretoria, Lynni du Toit. Tannie Lynni is oorspronklik van Windhoek,” vertel sy.
Magdaleen het egter ook haar eie boerdery op hul plaas by Outjo.
“Vandat ek kan onthou, is ek lief vir diere. My pa, Koch Pretorius, is ‘n boer en ek kyk baie op na hom. Ek het al hoenders vandat ek vyf is. My eerste twee hennetjies het ek as ‘n geskenk van Oom Piet en Tannie Mariana Gouws (oom Piet is nou die president van die NLU) gekry.
“Daarna het my oupa Piet van Zyl van Gochas vir my kappokies gegee – ‘n haan en twee henne. Ek was baie lief vir hulle en was sommer baie in hulle hokke,” vertel sy.
Magdeleen sê egter die belangrikste ding wat sy van die kompetisie geleer het, is dat “wen nie alles is nie en die vriendskappe wat jy smee, baie meer waardevol is.”
Magdaleen sê sy hoop om nog geleenthede in die sangbedryf te kry sodat sy later in haar lewe ‘n ingeligte besluit kan maak.
“Ek wil egter op die oomblik egter ‘n veearts word, maar daar is nog baie tyd om daaroor te dink en te besluit. Vir nou geniet ek dit in Privaatskool Moria met al my maats en alles wat ons hier kan doen,” vertel sy.
Haar boodskap aan Outjo se jongmense?
“Doen waarvoor jy lief is. Ek dink waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg en op die platteland weet ons mos van planne maak. ‘n Mens is nie spyt oor wat jy doen nie, jy is spyt oor wat jy nié doen nie,” sê Magdaleen.
“As jy lief is vir sing, neem aan die Voice of Namibia deel. Dit is ‘n baie lekker ervaring en jy maak baie meer maats.”
Comentários