Otji se heuning is koning
Otjiwarongo het klaarblyklik van die lekkerste heuning ter wêreld! So het die Lepen-familie bewys - Oupa Kiep en Ouma Suzanne, Pa Johan, Ma Liesl en hul seun Josua - toe hul heuning ‘n gesogde tweede plek by die “National Honey Show”, in Engeland behaal het.
Die heuningskou, wat vanaf 26 tot 28 Oktober by die Sandown Park-renbaan in Londen plaasgevind het, is ‘n samekoms van byeboere regoor die wêreld om die kuns en wetenskap van byeboerdery te vier.
Ten spyte daarvan dat die Lepen-familie nog maar nuut in die bedryf is, het hulle die strawwe kompetisie die hoof gebied.
“Wow! Wat ‘n ongelooflike ondervinding,” het hulle in ‘n brief geskryf. Min het ons geweet wat voorlê toe ons verlede jaar met ‘n byeboerdery begin het. Ek (Johan), my seun Josua en pa Kiep was aangenaam verras oor die nuus uit Engeland!”
“Daar was ongeveer 2 400 inskrywings vanuit 90 lande. In geloof het ek en my vrou, Liesl, drie potjies heuning verpak en Engeland toe gestuur met die hoop dat dit daar sal aankom, ontvang en ook uitgestal sal word.
“Op 27 Oktober 2023 was die vreugde groot en oorweldigend toe ons die resultate ontvang het. Uit 39 inskrywings in die klas 9-katagorie het ons heuning meegeding met uitskrywings uit lande soos Suid-Afrika, Chili en Oman, om ‘n paar te noem.
“Ons Namibiese heuning het ‘n allemuntige tweede plek behaal! Ek kon dit nie glo nie. Dit het so onwerklik gevoel. Alle eer aan ons Hemelse Vader, want sonder Hom sou dit nie gebeur het nie,” sê Johan.
Van kindsbeen af “Reeds as kind het my pa, wat op ons familieplaas in die Suid-Waterberg-omgewing grootgeword het, belangstelling in die natuur en sy werkinge getoon. Sy belangstelling in bye het reeds vroeg in sy lewe begin toe hy en my oupa veldheuning geoes het.
“Die afgelope jare het ek bykans by elke waterpunt op die plaas heuningbye opgemerk. Dit het ons almal se belangstelling geprikkel.”
Ietwat onverwags het Pa Kiep verlede jaar die voorstel gemaak dat die familie ‘n byeboerkursus moet bywoon, met die oorweging om dalk die boerderytakke op die plaas te diversifiseer. Een korf is daarna gekoop en voorlopig onder die lapa op die plaas neergesit.
“Min het ek besef dat die beskutting onder die lapa baie gunstig vir heuningbye is en het die verkenners baie vinnig ondersoek kom instel. Sommer gou-gou het die eerste swerm bye hulle in die korf kom tuismaak. So het die een swerm na die ander gevolg, kort op mekaar.
“Hulle het net gekom en gekom - letterlik oornag. Dit het gevoel soos nuwe troeteldiere wat ons bygekry het - elke korf het sy eie naam gekry,” vertel Johan.
Die Lepen-familie se plaas is suid van die Klein Waterberg geleë. Dit huisves ‘n doringboom savanna veldtipe wat oorwegend gekenmerk word aan Swarthaakbosse, Basterkameeldoring-, Kameeldoring-, Witgat-, Appelblaar- en Oumabome asook struike soos Rosyntjie-, Brosdoring-, Gaba-, Trassie-, Granaat-, Voeter- en Perdebos.
Die Lepens het begin Mei vanjaar hul eerste heuning geoes en deelgeneem aan die Byeboerderyvereniging van Namibië (BAN) se heuningproe-geleentheid. Hulle is toe aangemoedig om vir die geleentheid in Engeland in te skryf.
“Mag ons aanhou om van en oor bye te leer, veral oor die belangrike rol wat hulle in die natuur speel. Ek vertrou dat mense deur hierdie artikel bemoedig sal word om met bye te boer en hulle goed te versorg, want hulle sorg ook vir ons.
“Kom ons kyk met ander oë na bye as 'n bron van voedsel en medisinale waarde. Bye is 'n geskenk aan ons van die Hemelse Skepper!”
Comments