Nuwe Bambi Lodge ‘n water-paradys
Bambi Lodge verteenwoordig presies dit waarvoor Grootfontein bekend is – ‘n oase in die woestyn.
Met sy wye, oop groen grasperke, fonteine, groen landerye, damme en swembad, is dit duidelik dat hier geen tekort aan water is nie.
Felix Bamberger, eienaar van die Lodge sê hul leuse is “come and join the joyride.”
Die Lodge het maar onlangs sy deure geopen en is net sowat 2km buite Grootfontein op die pad na Tsumeb geleë. Felix het verlede jaar die plaashuis in ‘n gastehuis omskep en die afgelope twee maande daarop gefokus om ‘n gronddam te vestig asook om ‘n ruimte te skep waar troues en ander funksies gehou kan word.
Hulle het intussen ook op die aanlyn besprekingsdiens booking.com registreer.
Die kamers
Hy hoop om in die komende jaar meer kamers aan te kan bou. Die bestaande kamers is ruim, met groot glas skuifdeure wat op die grasperk uitloop. Dit het lugverkoelers en gratis Wifi en jy parkeer jou motor reg voor jou skuifdeur.
Dagbesoekers welkom
Bambi Lodge is ook oop vir dagbesoekers teen sowat N$30 per persoon. Dit spog met ‘n swembad en ‘n waterglyplank. Felix sê hy verskaf ook tafels, stoele en braaigeriewe aan gaste.
Comments