top of page

Get your advertisement here! 

Iets vir almal by Flintstone

Tanja Bause


“Ek weet nie presies waar die liefde en passie vir plante en mooi dinge vandaan kom nie. Ek weet net dat ek nog altyd van ‘n mooi tuin gehou het en daarvan hou om iets met my hande te skep en te maak,” sê Charmaine Swart van Flintstone Creations in Otjiwarongo.



Sy het in 2006 die besigheid begin. “Ek wou graag iets van my eie hê en het begin met ‘n kwekery wat ook potte vir plante verkoop. Die eerste potte was baie grof en het my aan die TV-karakter Fred Flintstone laat dink. Dit is waar die naam vandaan kom. Ek het hulle aanvanklik vanuit Suid-Afrika gekry, maar dikwels was hulle stukkend. Dit het my moedeloos gemaak.”

Sy het gietvorms vir sementpotte by iemand gekoop, en die persoon het haar gewys hoe dit werk. So het Charmaine mettertyd nog vorms aangekoop en die besigheid uitgebrei.

Vandag het Charmaine vier manne wat die potte in Otjiwarongo maak. Sy verf alles self en gee elke pot sy unieke karakter. Charmaine hou van kleure en speel graag daarmee, en dit maak elke pot anders. Sy het ook drie werkers in die kwekery.

“Maar ons help mekaar waar ‘n hand nodig is. Ons het ‘n groot verskeidenheid potte om van te kies. Ons werk met vorms wat ons hier en daar bietjie kan aanpas. Ons vervaardig ook tuinstelle van sement, wat die tafel en twee bankies insluit.”

 

Plante

Van struike, vetplante, vrugte- tot skadubome, daar is iets van alles by Flintstone Creations te vind.

“Ek het nie juis ‘n gunsteling plant nie. Ek is mal oor almal, maar as hulle blom en lekker ruik, bly hulle ‘n wenner.”

Daar is ook ‘n winkel waar mense ‘n verskeidenheid van koekies, beskuite, konfyte, en vars groente en vrugte kan koop.

Flintstone Creations spog ook met twee haarsalonne, wat die sentrum ‘n gewilde bymekaarkomplek op die dorp maak.

“Verskeie mense van Otjiwarongo bak vir die winkel.

Ek probeer ook die boere ondersteun deur vir hulle ‘n afsetpunt vir hul produkte te gee.”

Aan die einde van die maand kan mense van Outjo en Omaruru ook Flintstone Creations se produkte koop, aangesien Charmaine en haar span gereeld hierdie dorpe besoek. Die potte word ook in Walvis-baai, Okahandja en Windhoek verkoop.


Gebore, getoë op Otjiwarongo

Charmaine is in Otjiwarongo gebore en het haar skoolloopbaan in Keetmanshoop voltooi.

Die hoogtepunt in haar lewe was toe haar kinders gebore is en toe sy Flintstone Creations oopgemaak het.

“Ek is ‘n ouma en ek verruil dit vir niks in die lewe nie. My kinders, groot en klein, is my goud en my diamante. Kinders lê my oor die algemeen baie ná aan die hart.”

Haar droom is om die potte-afdeling uit te brei en in die toekoms oor die hele land te verkoop. 

Comments


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest
bottom of page