top of page

Get your advertisement here! 

Help Strike Force om Grootfontein te beveilig

Terwyl misdaadsyfers in die Otjozondjupa-streek die afgelope jaar met soveel as 200% gestyg het, doen Strike Force - ‘n groep vrywilligers wat ‘n noodroepdiens op Grootfontein aanbied – ‘n dringende beroep op inwoners se ondersteuning.


Strike Force sal ‘n veiling Donderdagaand 14 September om 08:00 op Grootfontein Skou aanbied om geld in te samel, maar vra dat boere beeste en kleinvee moet skenk om opgeveil te word.

Die hoop is om genoeg geld in te samel sodat veiligheidskameras in en rondom Grootfontein installeer kan word, terwyl ‘n basis ook op die dorp gevestig sal word waaruit die kameras gemonitor kan word.

“Die geld wat ons by die Grootfontein Skou insamel, sal teruggeploeg word in die dorp se sekuriteit. Dit is egter duur, met die veiligheidskamers wat ten minste sowat N$250 000 sal kos,” het Götz Nederlof, wat aan stuur van die inisiatief staan, gesê.

Götz, ‘n reservis vir meer as tien jaar, verduidelik dat die noodroepdiens sowat vier maande gelede gestig is en bestaan uit ‘n groep vrywilligers wat hul eie voertuie en hulpbronne benut om die gemeenskap spesifiek in noodsituasies by te staan.

Hulle het ook vinnige bystand verleen toe die boer Udo Gärtner in Julie op ‘n Grootfonteinse-plaas aangerand en beroof is. Dit sluit in dat Götz onmiddelik na die toneel uitgery het en padblokkades opgestel is.


Vir lewe en dood

Strike Force het voortgevloei uit die Grootfontein-buurtwag – maar met die verskil dat dit ‘n reaksiespan vir noodsituasies is.

“Ons is ‘n span van vrywilligers wat enige tyd in die dag en nag gereed staan om op nood in die gemeenslap te reageer – hetsy dit in die dorp is of om byvoorbeeld te voorkom dat renosters gestroop word,” verduidelik hy.

“Ons kan egter nie hierdie geveg alleen wen nie, ons het die hele gemeenskap se ondersteuning nodig.” Götz verduidelik hulle benodig meer vrywilligers om hulself vir die nooddienste beskikbaar te stel, terwyl hulle ook geldelike ondersteuning kort.

“Daar is genoeg jongmense in die dorp om betrokke te raak. Tans is daar net ‘n handvol manne wat help,” het hy gesê en bygevoeg dat mense hom hieroor kan kontak.

“Ons kort ook items soos koeëlvaste baadjies, terwyl daar gedurig ‘n behoefte aan brandstof is en waarvoor vrywilligers tans self betaal. Sonder samewerking kan ons niks doen nie.”


Bystand

Götz sê daar is ‘n bankrekening vir Strike Force oopgemaak, met inwoners soos Gustav Schulz en Johan Enslin wat reeds geldelike bydraes gemaak het. Organisasies soos Engen, Cymot en Holland bied ook reeds hul ondersteuning.

Hy het weereens ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hul veiling by die skou te ondersteun – hetsy deur skenkings van vee of om te kom koop.

Götz skenk self ‘n bees en hy hoop dat meer mense sy voorbeeld sal volg. Vir meer inligting, kontak Götz by 081 140 0404. Strike Force se bankbesonderhede is: Gotz Alexander Nederlof, Bank Windhoek, rek. Nr. 8034 868 487, takkode 482-473.

Comments


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest

Oh!SixSeven, telling our most inspiring stories!

Let us know what's on your mind

Thanks for submitting!

© 2035 by Turning Heads. Powered and secured by Wix

bottom of page