Groete uit China
Hy woon en werk in China, maar kom kuier gereeld in sy heimat. Hoe is dit om in die buiteland te woon en te werk? Oh!SixSeven gesels met Gerhardus du Preez oor sy ervaringe.

Vertel ons van jou grootwordjare?
Ek is in Tsumeb gebore en was op Grootfontein van kleuterskool af tot matriek: P.S.W.N en Grootfontein Sekondêre Skool (en baie trots daarop). Ek was bevoorreg om fantastiese onderwysers te hê.
Ek het ook van my skoolopset gehou omdat dit my aan soveel diversiteit in terme van kulture en mensetipes blootgestel het.
My ouers het ons baie na aan die natuur grootgemaak, so droë gras, stinkmier en don-derstorms is goed wat my van kindsbeen af prikkel.
En natuurlik, die geskreeu van fisante is vir my ‘n hartsklank. Vandag besef ek ook wat se suiwerende effek ons omgewing op die siel het.
China is ‘n ander wêreld. Hoe (oor)leef ‘n Namibiër daar?
China is ‘n plek waar daar 365 dae van die jaar opwinding is. Daar is altyd iets nuuts of iets snaaks.
Die mense is definitief die mees gasvrye mense wat ek al ontmoet het. Ek het wonderlike Chinese vriende gemaak.
Die kos is heerlik en baie gesond.
My cholesterol het sonder moeite genormaliseer. Die vinnigste manier om aan te pas is om die taal aan te leer.
My Mandaryn is net genoeg om te oorleef, maar ek woon steeds klasse by en probeer dit op algemene gespreksvlak kry. Ek dink ook dit baat die aanpassingsproses om so gou as moontlik die kulturele merkers te leer ken en met ‘n verskeidenheid plaaslike mense te meng. Maak plaaslike vriende!
Vertel ons van jou loopbaan?
Ek het Taal en Kultuur studeer aan die Universiteit van Stellen-bosch, gevolg deur nagraads in Engelse Middeleeuse Letterkunde.
Ek het deeltyds werk vir die Universiteit gedoen terwyl ek studeer het. Daarna begin as hoërskool onderwyser by staat- en privaatskole. Ek het dit baie geniet om skool te hou (ek dink tog dit is my geheime passie). Ek het goed oor die weggekom met my leerlinge en kollegas. Op ‘n stadium het ek besef ek wil ander werkstrukture en omgewings beleef. Die akademie het ek ook begin mis. Ek was nie seker wat om te doen nie, en China was ‘n opsie. Sonder om te veel te dink het ek ‘n werk daar aanvaar in ‘n taalsentrum vir besigheidsdoeleindes. Toe ek my voete gevind het, het ek begin aansoek doen vir poste by universiteite tot ek een gekry het.
Ek werk baie lekker, geniet die uitdagings en leer baie in die proses.
Jy kom gereeld Grootfontein toe – beskou jy dit steeds as jou huis?
Hierdie is ‘n moelike een. Ek geniet dit baie om ‘huis’ toe te kom en vir my ouers en vriende te kuier. Ons gesin is baie na aan mekaar en ek mis my vriende hier. Die ding is, omdat die toekoms onvoorspelbaar is, moes ek ter wille van ‘n gesonde kopspasie my omgewing in China as ‘huis’ aanvaar. Anders hang jy die heeltyd in die lug.
Dit verminder nie my affiniteit met Grootfontein-omgewing en die huislikheid wat ek daaraan koppel nie. My werk, ruimte en funksionele spasie is tans in China. So ek beskou dit as my huis, vir nou. Ek kuier ten minste een keer ‘n jaar op Grootfontein vir ses weke (ek was gedurende COVID vir drie jaar hier vasgevang – gelukkig kon ek die heeltyd aanlyn werk en klasgee).
In die verlede het ek al draaie op ander plekke gemaak, maar ek moet kom pap en wors eet. So ek probeer altyd so bietjie Noorde Namibië inwerk.
Jou raad aan jonges wat ook eendag oorsee wil studeer, woon en werk?
Eerstens, begin op skool al aan jou toekoms werk. Bereik jou volle potensiaal so gou as moontlik en gebruik dit as hoekstene om vorentoe te bou. Die kompetisie raak al hoe moeiliker in die buitewêreld. Dit is rêrig ‘n geval van ‘oorlewing van die sterkstes’. Tweedens, besef dat jou kultuur, geloof en oortuigings ‘n realiteit vir jou as individu is en nie die wêreld se realiteit nie.
Respekteer en aanvaar mense vir wie hulle is en nie wat jy wil hê hulle moet wees nie. Verskille in mense dra by tot ryk lewenservarings - wees ontvanklik daarvoor.
Comments