Perde is haar passie
“As jy al ooit teen ‘n perd se nek gestaan en sy reuk ingeasem het, sal jy weet waarvan ek praat.” - Megan Wise.

“Perde is my passie! Dit maak nie saak wat ek doen of waar ek is nie, daar moet ‘n perd naby my wees want hulle hou my kalm, leer my geduld en forseer my om my stres eenkant te sit.”
So gesels Megan Wise, ‘n bekende in Namibiese perdrykringe wat haar opleiding in dressuur en springklasse van die beste in die bedryf ontvang het.
Sy en haar lewensmaat Chanté Nell is bekend daarvoor dat hulle perdrykampe tydens die winter- en somervakansies vir kinders en tieners naby Grootfontein aanbied onder die naam Chahanic Equestrian Centre’s Horse Adventure Camps.
Kampe
‘n Summer Pony Camp word juis van 8 tot 11 Desember aangebied, gevolg deur ‘n Extreme Safari-perdrykamp vanaf 14 tot 17 Desember vir jong ruiters.
“Die Pony Camp Edition is vir ruiters van enige vlak – hier kan jy leer perdry. Die kamp sluit daaglikse perdrylesse in – volgens elkeen se vlak, teorie en praktiese lesse, uithouritte in die veld tussen wilde diere, plaas- en kamp-aktiwiteite, swem, kuns en kunsvlyt asook ‘n ‘perdeskou’ vir die ouers op die laaste dag,” verduidelik sy.
Die Safari Edition is vir kinders en tieners wat reeds goed kan perdry. “Ons kamp op verskillende plase, doen lang uithouritte in die veld tussen wilde diere, verskeie plaas- en kamp aktiwiteite, swem asook ‘n skattejag op perde,” sê Wise.

Kinders leer my
“Die kinders herinner my om vertroue in my perde te hê. Daar is niks so mooi soos ‘n kind wat ‘n band met ‘n perd gevorm het en dit ten volle vertrou nie. Om te sien hoe so ‘n groot, sterk dier gehoorsaam is aan die klein mensie op sy rug wie se bene skaars verby die saal kom, is onbeskryflik mooi.
“Die kinders herinner my dat wanneer jy jou vertroue in die perd stel, sal hy enigiets vir jou doen,” sê sy. Boonop is perdry baie goeie oefening wat balans, postuur en spiertonus ontwikkel. Perde leer kinders geduld, fokus, dissipline, respek en liefde vir diere. En perdry is baie lekker!”
Wise het self in die perdespring- en dressuurwêreld leer perdry onder die beste afrigters in die land naamlik Sybille Kazmaier, Christine von Finkenstein, Egbert Hoff en Stephanie Rexrodt.
“Ek glo in die terapeutiese en kalmerende uitwerking wat perde op mense het,” sê Megan en vertel dat sy gesien het hoe perde as terapie gebruik word vir kinders met verstandelike en fisiese gestremdhede. Sy sê sy glo dat interaksie met perde enige een beter laat voel omdat dit jou tydelik van jou ander bekommernisse laat vergeet.
“As jy al ooit teen ‘n perd se nek gestaan en sy reuk ingeasem het, sal jy weet waarvan ek praat.”

Johannesburg tot Grootfontein
Megan, wat in Windhoek grootgeword het, het haar springperd saamgeneem toe sy naderhand in Johannesburg gaan swot het. Sy het die perd in Sandton by Byerly Park, 'n ryskool en stalwerf, aangehou waar sy ook lesse by baie gesogte afrigters gekry het.
Dit was hier waar sy een Saterdag vir ‘n ander afrigter moes instaan en so goed gedoen het dat sy vir privaatlesse genader is. Die volgende jaar is drie van haar leerlinge vir die Gauteng Interskole-span vir perdespring en equitation gekies.
Terug in Namibië het haar padjie eindelik tot Grootfontein gelei, waar sy tans weekliks meer as 25 studente afrig.
“Ons fokus grotendeels op uithouritte en perdeskoue, maar die werk wat ons in die lesse doen kom van my dressuur- en spring-agtergrond, want ek glo dat ‘n ruiter se dissipline, styl en gevoel vir die perd baie belangrik is in alle soorte perdesport.”
Megan werk tans self aan haar eie uithouritloopbaan onder instruksie van Chanté en oom Hennie Coetzer. “Ek hoop om in 2025 die Fauresmith 200 te gaan ry,” sê sy.
Comments