Geen groter hart vir diere
‘n Dierehemel vir wesies, haweloses
Bubu’s Animal Haven is dit alles: ‘n Tuiste vir wees- en weggooidiere soos die hawelose hond Benji wat chemoterapie teen kanker moet ontvang asook vir Zia, die swart kat, wat vir langer as twee jaar by die dierebeskermingsvereniging (DBV) op Walvisbaai tevergeefs gewag het dat iemand haar moet aanneem en eindelik depressief begin geraak het.
Reni van der Mewe se verhaal met diere het lank gelede reeds begin, toe sy maar nog ‘n klein, voorskoolse dogtertjie was.
“My ouers is na ‘n troue genooi. Ek het in die hotel se agterplaas rondgewdaal en ‘n klein, uitgeteerde swart katjie by die vullisdromme opgetel. Ek het haar heel aand van die troue se kos gevoer en sy is later die aand saam met ons terug plaas toe.
“Natuurlik het ek geweier om sonder haar in die kar te klim!” vertel Reni, wat sê haar lewe het nog altyd om diere gedraai. Dit het eindelik daartoe gelei dat sy besluit het om ‘n diereversorgingsoord by Kamanjab te begin.
“Bubu’s Animal Haven huisves ‘n wye verskeidenheid diere – alles van huisdiere, plaasdiere en wilde diere. Heelwat van hulle is uit dorpe na ons toe gestuur omdat mense hulle nie meer wou hê of kon akkomodeer nie.
‘n Tuiste vir haweloses
“Ons huisves weesdiertjies, sowel as beseerde, verwaarloosde en ongewenste diere en verskaf `n permanente tuiste vir hulle, vir solank as wat hulle lewe,” vertel die stigter Reni van der Merwe, wat hierdie veilige hawe vir diere in die noordweste van die land, naby Kamanjab, gestig het.
“Ons het heelwat ou hoenders, ganse, duiwe, eende, papagaaie, konyne, tarentale, volstruise, honde, katte, bokke en beeste wat afgetree het of uit boerderye oorgeneem is en nou lewenslank versorg moet word.
“Dit is meestal diere wat hans grootgemaak is, bejaarde of siek diere wat met baie tyd, liefde en onkostes gered is,” vertel sy.
“Ek is gedurig besig om ‘n wees-diertjie groot te maak en om iets te probeer red en sal nooit moed opgee op enige dier nie.
“Baie ongewenste diere en optel-voeltjies word gereeld na my toe gestuur. Mettertyd het my `zoo` al hoe groter geraak, en het dit vir my finansieel moeilik begin raak om almal op eie koste te versorg.
“Ons het ook gereeld wilde diertjies wat wees of beseer is, wat ons behandel, grootmaak, rehabiliteer en weer vrylaat in die natuur, wanneer dit moontlik is.
“Waar moontlik, probeer ons ook om diere te laat regmaak en eienaars op te voed en die bose kringloop van ongewenste swangerskappe en verwaarloosde diere te help voorkom. Ons help ook om ‘n goeie tuiste vir die onbeplande kleintjies te vind.”
Nie-winsgewende organisasie
Reni sê goeie vriende het haar gehelp met die administratiewe deel daarvan om ‘n nie-winsgewende organisasie te stig.
“Ondersteuning en befondsing vanaf die publiek sou my in staat stel om meer diere te kan help en te huisve. Bubu’s Animal Haven is amptelik in Desember 2021 gestig.”
“Die naam Bubu kom van een van ons inwoners. Bubu was ‘n wees babavoëltjie wat ek in Otjiwarongo gaan haal en grootgemaak het. Ons het eers gedink dis `n swaeltjie, maar Bubu het lang bene gehad en in ‘n gevlekte Lyster ontaard. Bubu is steeds by ons,” vertel sy.
Reni se dogters help haar met die versorging van die diere. “My jonger dogter het ‘n passie vir fotografie en neem al die fotos en video’s van die diere wat ons op sosiale media met die publiek deel.”
Besonderse diere
“Verlede jaar het ‘n baie besonderse hondjie oor ons pad gekom, Benji.
“Hy was haweloos en verwaarloos en het in die veld rondgedwaal en probeer oorleef. Hy is ‘n paar plase van ons af in die bosse gewaar en later op ons buurplaas.
“Ons het eers gesukkel om hom te vang, hy was verskriklik bang gewees en het weggehardloop. Gelukkig het ons hom toe later met kos gelok gekry gekry en huis toe gebring.”
Reni sê sy het op sosiale media na sy eienaar gesoek, maar tevergeefs. “Hy het vining in my hart gekruip en ek was later bang iemand kontak my wel oor hom!
“Hy was sieklik en verwaarloos, uitgeteer en vol bosluise. Ons het hom vir bosluiskoors en ‘n infeksie behandel, toe die veearts vasstel dat hy kanker het. Hy het reeds twaalf chemoterapie-sessies agter die rug.
“Die kankergewas het kleiner geword, maar is steeds nie weg nie.
“Ons gaan hom nou eers drie maande laat rus voor ons weer met ‘n opvolg chemo-essie begin, indien nodig,” vertel Reni. Sy sê Benji is besonders. “Hy het `n lifelike geaardheid en ‘praat’ met `n mens in sy taal, soos ek nog nooit ‘n hond hoor praat het nie.
“Hy het soveel lewensvreugde en dankbaarheid. Hy het ou letsels op hom wat ‘n teken is dat hy voorheen ‘n baie moeilike lewe gehad het en mishandel is.
“Ons gee hom nou die beste versorging en lewe moontlik, wat hy voorheen nie geken het nie, en liefde in oorvloed. Ons bid en hoop dat hy vining volkome van die kanker kan herstel.”
Aftreeoord vir katte
“Project Cat House” is ‘n projek waarmee Reni beoog om ‘n tuiste te bied vir rondloop- en seniorkatte, wat al baie lank by DBV’s wag.
“Swart katte is word byvoorbeeld moeilik aangeneem, terwyl hulle die liefdevolste en pragtigste katte is.
“Ek het onlangs vir Zia vanaf Walvisbaai se DBV laat kom, nadat ek gehoor het dat sy depressief begin raak het. Sy het reeds twee en ’n halwe jaar daar gesit en tevergeefs gewag. Sy is my groot motivering agter die ‘kathuis-projek’. Die probleem het my slapelose nagte gegee en laat besef dat ek aan ‘n plan moet dink om meer katte soos sy te help.
‘n Helpende hand
Die publiek en besighede kan ‘n groot verskil maak deur bydraes vir die versorging van diere by Bubu’s Animal Haven te maak.
“Finansiële bydraes is baie welkom en noodsaaklik, vir die aankoop van die materiaal vir die bou van die kathuis, veeartsenykostes en algemene versorging van die diere.
“Enige donasies in vorm van kos vir die diere is altyd welkom, asook benodighede vir die inrig van die kathuis, soos byvoorbeeld sandbakke, kosbakke, speelgoed vir die katte, ‘cat scratching posts’, kat vervoerhokkies en beddens,” sê Reni.
Bubu’s Animal Haven het ‘n Facebook-blad, sowel as ‘n Instagram-profiel, waarop daar gereeld nuus gedeel word. Reni kan gekontak word by 081 2727 427 of bubusanimalhaven@gmail.com.
Comments