Geloof soos Cha’risse
“Jy sal sien, as ‘n mens in ‘n situasie kom en sterkwees al is wat jy kán wees, dan is jy maar sterk.” - Charmain van Wyk, ma van die 13-jarige Cha'risse wat tans behandel word vir bloed- en beenmurgkanker.
Marathon
Hierdie Grootfonteinse gesin veg moedig teen die siekte, ten spyte van die enorme mediese koste wat hulle onder onmenslike druk plaas.
“Ons sal ook hier deurkom. My man Roelof het my nou die dag daaraan herinner dat hierdie nie ‘n ‘sprint’ is nie, maar ‘n marathon,” sê die moedige Charmain.
Op die vraag hoe dit met haar gaan, sê haar ma Charmain die 13-jarige Cha’risse kla nie en haar dogter is positief en geestelik baie sterk. “Sy glo Jesus het haar reeds gesond gemaak,” sê Charmain.
Behandeling
“Ons moet die 30ste Oktober weer in Windhoek wees, dan sal ‘n beenmurgtoets gedoen word en dan sal ons weet waar staan ons.”
Sy verduidelik met so ‘n toets word vasgestel of die kankertelling daal en of die behandeling werk. “Tans kry sy ‘n chemo-spuit asook ‘n chemo-pil.
“Toe sy 3 jaar oud was, het sy ook bloedkanker gehad waarvoor sy chemo ontvang het. Elke mens kan net ‘n sekere hoeveelheid ‘sterk chemo’ in hul leeftyd kry en Cha’risse se kwota is reeds vol,” sê Charmain.
Sy sê ná elke 28 dae se behandeling, word ‘n beenmurgtoets gedoen om vas te stel of daar voortgegaan moet word met die behandeling en of Cha’risse in remissie is. Selfs in remissie moet sy weer ‘n ander tipe spuit en pil kry om die kankertelling af te hou.
Die hoop is dat Cha’risse eindelik ‘n beenmurg-skenking sal kan kry. “Die risiko is groot. Dit kan slegs in die Kaap gedoen word. Sy sal in isolasie geplaas moet word omdat sy dan nie met enige kieme of virusse in aanraking sal mag kom nie, want dit kan fataal wees.
“As ‘n mens soek na ‘n beenmurgskenker, is daar ook dikwels groot koste aan verbonde. Die hoop is dat haar broer of suster gepaste skenkers sal wees. Sou ‘n gepaste skenker gevind word, sal die beenmurgoorplanting in die Kaap rondom N$5 miljoen kos,” vertel Charmain.
Op die vraag waaraan hulle tans die grootste behoefte het, antwoord Charmain: “Dit mag dalk snaaks klink, maar as ek eerlik is, het ons tans die grootste behoefte aan klere vir die kinders.
“Pappa het nou die dag met sussie geraas oor haar broek te kort is, maar toe sê ek die kind het nie meer klere wat pas nie,” het ‘n emosionele Charmain gesê.
Sy sê die groottes wat haar kinders dra is medium-grootte mans- of seunsklere, en dan ‘n nommer 30 of 32 meisie of vroue-klere asook nommer 40 meisie- of vroueklere.
Groot onkoste
As ouers is hierdie glad nie ‘n maklike pad vir die Van Wyks nie. “Dit is baie moeilik, ‘n mens kan net doen wat jy kan. Dit is jou kind,” sê Charmain.
“Die ergste was toe sy die eerste keer in die hospitaal opgeneem is om met die chemo te begin. Sy moes ‘n operasie ondergaan om die chemo-poort te kry en het toe boonop longinfeksie opgedoen. Daardie eerste twee tot drie weke in die hospitaal was erg.”
Charmain sê die geldelike druk is erg. “Ek dink my verlofdae is nou opgebruik – ek sal seker een van die dae moet bedank. Ons is vyf in die huis, saam met oupa. Tans is my man die enigste een wat finansieël kan voorsien.
“Die geldelike druk is erg, nie net as dit by die chemo kom nie, maar ook in die huis. Die medikasie alleen kos ons N$40 000 per maand. Dit sluit die heen-en-weer ry Windhoek toe uit.”
Charmain sê haar dogter moet elke Maandag laat bloed trek. Sy het reeds onderhandel om dit in Grootfontein te doen – wat baie koste bespaar. Cha’risse se bloed moet drie tot vier keer ‘n maand getrek word - iets wat die Van Wyk’s uit hul sak moet betaal, want hullle het nie mediese dekking nie.
Terwyl Cha’risse se mediese onkoste alleen N$40 000 per maand beloop, kan ‘n noodsaaklike beenmurgoorplanting in die Kaap ‘n verdere N$5 miljoen kos.
Commentaires