top of page

Get your advertisement here! 

As die gogga byt

Otjiwarongo se gogga-boer, Danou van Rensburg, boer met drie verskillende soorte kakkerlakke, meelwurms, superwurms, krieke, vlieë asook rooi erdwurms. En nee, hy kan nie voorbly met die vraag daarna nie – soveel so dat hy kliënte soms moet vra om hom meer tyd te gee.

“Die insekte word meestal gekoop om vir ander diere te voer,” verduidelik Danou. Hy sê van sy grootste kliënte kom uit die bewaringsbedryf waar daar byvoorbeeld wilde diere soos voëls, ystervarke of meerkatte gevoer moet word.

“Van die mense wat voëls ring, koop superwurms by my. Dit lok die voëls tot waar hulle in ‘n sekere toestel gevang kan word. Dan sit hulle ‘n ringetjie vir die voëls aan voor hulle dit weer laat gaan,” verduidelik hy.

Die rooi erdwurms, ook plaaslik bekend as die kariba-wurm, word gebruik om kompos en kompostee mee te maak.


Vlieë

Danou boer ook met soldaatvlieë (black soldier flies), wat oraloor die wêreld as ‘n voer vir diere soos hoenders en varke benut word.

Hy sê die vlieg het ‘n lewensduur van sowat 35 dae. In die larwe-fase word die vlieg gedroog voor dit aan sy hoenders gevoer word.

“Dit word byvoorbeeld in Asië en hoër op in Afrika hiervoor benut. Die vlieg het ‘n uitstekende voeromset en het ‘n baie hoër proteïen-inhoud as byvoorbeeld mielies,” het Danou verduidelik. Hy sê alhoewel hy self nog nie so suksesvol is met dié boerdery nie, is hy daarvan oortuig dat veral die vlieg ‘n ‘game changer’ vir Namibië kan wees.

“Enige persoon kan met hom boer en dit kan gemors neem, soos afvalkos, en dit in iets bruikbaar omskep,” meen hy.

Erdwurms

Danou, wat al lank reeds met erdwurms boer, sê dit het vir hom reeds goeie geld verdien. “Ek het ‘n droom vir permakultuur, waar verskeie organismes soos perde, mielies en wurms deel van ‘n sirkel vorm en elke deel daarvan lewer iets waardevols. Dit is waarnatoe ek wil werk,” vertel hy.

Hy sê sy oupa het reeds met rooiwurms en meelwurms geboer en dat hy seker is dat al die nuwe soorte insekte ook sy belangstelling sou prikkel.

“Die ding daarvan om met insekte te boer is dat jy nou met ‘n duisend kan begin en oor vier maande het jy ‘n 100 000 van hulle.”

Danou sê daar is beslis ‘n mark vir insekboere – soveel so dat hy nie altyd genoeg kan produseer as wat daar ‘n vraag voor is nie. “Soms moet ek vir kliënte vra om my eers ‘n bietjie kans te gee,” sê hy.

Vir meer inligting kan belangstellendes Danou se Facebook-blad genaamd The Food Forest besoek of hom by 081 036 7904 kontak.

Comments


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest
bottom of page