top of page

Get your advertisement here! 

AgriXtra 2023: Uit die pen en hart van Grootfontein se skoupresident

Nita Pretorius - Wat ‘n voorreg om saam met ‘n baie spesiale groep mense AgriXtra 2023 aan te bied.

Grootfontein Skouvereniging sit met trots ‘n eeu-oue tradisie voort. 26 Mei 1912 was die eerste landbou-tentoonstelling in ons dorp aangebied. Wanneer ‘n tradisie so lank behoue gebly het, mag ons dit nie laat verlore gaan nie.

AgriXtra is nuut en gebore uit ‘n behoefte vanuit ons boere se harte: Om hul spogdiere meer blootstelling te gee, om die fokus terug te skuif na boerdery, om ‘n geleentheid te skep waar kundiges opleiding kan gee, waar nuwe boerdery-moontlikhede en metodes ondersoek kan word en waar opkomende, jong boere betrek kan word.

Die uitdagings wat boere daagliks in die gesig staar is enorm.

Die speelveld verander jaar ná jaar en slegs wanneer ons teruglees in die geskiedenis, wanneer ons tyd maak om te luister na die stories van ons voorgeslagte, net dan kan ons werklik weet hoeveel moed dit vat om elke dag opnuut aan te pak.

Eerste probeerslag

As Vereniging is hierdie ons eerste probeerslag. Ek verseker u dat dit met inisiatief, trots en harde werk aangebied word.

Mense uit ons gemeenskap wat JA! gesê het vir ‘n saak waarvan hulle die omvang nie regtig besef het nie. Mense wat my vroeg in 2023 nuwe moed gegee het vir ons dorp en ons gemeenskap.

Wanneer ons uitreik, wanneer ons vra, wanneer ons onsself blootstel, word ons verras met die mooi van mense wat steeds bestaan. Omdat dit nuut is, gaan ons foute maak en dinge doen waarop ons kan verbeter.


Ek vra dat u hierdie kritiek asseblief na my toe sal oordra - 081 124 2182 / primesteeljd@gmail.com. Ons sien uit om op voorstelle en kritiek te verbeter, want hierdie spore wat getrap word, hoop ons is mooi genoeg dat ander daarin sal wil volg.

Uitdagings is baie, maar vir die hier en nou het ons baie dankbaarheid en sien ons uit om u op ons gronde te verwelkom.

Dankie

As borg: baie dankie dankie dat u ons vertrou met fondse waarvoor u gewerk het. Dankie vir elkeen wat ook hulp in die een of ander vorm verleen. Dankie dat u help bou aan iets mooi's, maar ook baie nodig, in ons gemeenskap en dorp. As Vereniging verseker ons u dat u borgskap met verantwoordelikheid en deursigtigheid aangewend sal word.

As uitstaller: baie dankie! Dankie dat u ten spyte van ‘n ekonomie wat knyp en onsekerheid, steeds die moeite en koste aangaan om ons te ondersteun.

As boer en vertoner: Baie dankie. Omdat u aanhou deur uitdagende tye, omdat u ‘n voorbeeld is van moedhou en aanhou is dit vir ons ‘n voorreg om u welkom te heet.

Mag ons harte altyd warm klop vir dit waarmee Hy ons geseën het en mag ons boeregemeenskap vir altyd bly staan.

As publiek: Baie dankie! Dankie vir u ondersteuning en bywoning. Ons waardeer dit.

KOMITEE 2023: Julle weet al wat ek vir julle wil sê, en mag dit asseblief nooit net vir julle woorde wees nie. Mag my dankbaarheid en bewondering jou op rowwe dae herinner aan wié jy is.

Trots op julle.

AAN HOM DIE EER!

Comments


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest
bottom of page