Liefde vir perde en kuns maak mooi
- 067triangle
- Sep 30, 2025
- 3 min read
Grootfontein Skou se perde kostuumklas is jaarliks ‘n hoogtepunt, met Chanté Nell wat kinders help om hul grootste dromte te realiseer deur kostuums te bou en selfs die perde te verf. Dis juis hier waar haar liefde vir perde en kuns één word.
“Kinders uit ons ryskool het my tydens die skou gevra om hulle te help met die kostuumklas waarin die perd met die mooiste kostuum wen. So het ek begin om die perde te verf.
Ek het ook al kostuums vir die perde gebou, maar ongelukkig is die ingenieur in my nie so oulik soos die kunstenaar nie.”
“Aanvanklik was daar baie uit-dagings, en Chanté moes leer hoe om perde te verf - nie ’n maklike taak nie. Hoe kry mens die verf vinnig af as die perd ná die kostuumklas nog ’n ander klas moet doen?
“Een van my perde was al vir drie dae blou en ’n wit merrie het ’n ‘fancy’ ryklas gedoen met ’n Wonder Woman-teken op haar sy. Ek moes leer watter verf ek vir die maanhare en watter ek vir die lyf kan gebruik. Die kinders kom na my toe met hulle idees, en ek probeer om dit te realiseer. Vandat ek begin het, het ek seker al 15 perde geverf.
“My gunsteling was Astrid en Stormfly van die animasie ‘How to Train Your Dragon’.
My ma het Lillian se kostuum gemaak, en ek het vir Somara geverf. Ek het in 2023 die prys vir die beste kostuum met die blou perd by die Grootfontein Skou gewen.”
Hoe dit begin het
“Ek is in Grootfontein gebore en het groot geword met die Skou en perde,” sê Chante Nell (33).
As kind het sy gesukkel met aggressie, en iemand het aan haar ma voorgestel dat perdry dalk daarmee kan help.
“Op die ouderdom van vyf of ses het ek begin om perdrylesse te neem en dit is waar my liefde vir perde, perdry en alles rondom perde begin het.”
In 2003 het sy met uithouritte begin, en sy het tot 2021 saam met haar merrie, Henham Zahra, kompeterend gery.
“Ons twee het ’n baie suksesvolle loopbaan gehad en het jare lank vir Namibië verteenwoordig.”
Grootfontein toe
In 2018 het Chante en haar lewensmaat, Megan Wise, na Grootfontein getrek om ’n Perde Safari-besigheid te begin.
Toe het die COVID-19-pandemie en die gepaardgaande beper-kings die besigheid tot ‘n stilstand gebring. Hulle het toe besluit om ’n ryskool te begin. Vandag spog die ryskool met 37 ruiters.
“In 2020 het ons by die Skou se perdekomitee aangesluit, en ons het in-diepte betrokke geraak by die skou.”
Hulle het ook begin om die ryskoolkinders na skou toe te bring en een van die gunstelingklasse by die perde-afdeling was die kostuumklas.
Skou 2025
“Tydens vorige jare het ons al ’n paar kampioenskappe gewen en alhoewel ons dié jaar ’n bietjie minder kinders by die skou gehad het, het almal baie goed gevaar—daar was nie een wat sonder ’n prys weggestap het nie.
Die ruiters het deelgeneem aan die Arabier- en Alle Rasse-afdelings, asook aan die boeresport.
“Ek is persoonlik baie bly dat hierdie klasse nou meer en meer kinders lok, met ruiters en perde vanaf Tsumeb en Windhoek wat ook kom deelneem.
“Vyf jaar gelede het boeresport glad nie by die skou plaasgevind nie,” sê Megan Wise.
Drie kinders het vanjaar in die kostuumklas deelgeneem, waar-van twee 1ste en 2de plekke behaal het.
Hoogtepunte vir Chanté
2006 Walvisbaai – 120 km: 2de plek vir Namibië
2007 Loskopvallei – 120 km: 2de plek vir beste voorbereide perd
2007 Walvisbaai – 120 km: Spirit of Endurance-trofee gewen
2008 Hofmeyr – 120 km: Kaptein van die Namibiese span
2009 Beaufort-Wes – 120 km: 1ste plek en beste voorbereide perd gewen.
Chanté skou jaarliks met haar perde op Grootfontein Skou
Van kleins af is sy baie kreatief en het sy vir skolekuns-kompetisies in-geskryf. “Die talent is iets wat ek by my ma, Hannelie, gekry het.”
















Comments