top of page

Get your advertisement here! 

!Amace help San-kultuur bewaar

Tanja Bause


!Amace N!aici, ‘n toergids met sy eie jagtermuseum by Tsumkwe, is waarskynlik een van die min San-mense wat die unieke kultuur laat voortleef deur sy betrokkenheid in die stigting van verskeie museums en kultuursentrums asook die oordrag van hul kennis na kinders.



Hy tree ook as toergids op wat toeriste naby Tsumkwe op bosuitstappies neem waar hy hulle wys hoe die San met ‘n pyl-en-boog jag, vuur maak, strikke stel, spore lees en tradisionele boskos en medisyne maak.

!Amace het in 2017 sy eie onderneming, Tsumkwe Craft & Tours, begin. Dit is 2 km buite Tsumkwe op die Sikereti-pad geleë wat na die Khaudum Nasionale Park lei. “Ek het my besigheid geregistreer en betaal elke jaar inkomstebelasting aan die regering,” sê hy trots.In 2004 het hy en sy familie gehelp om die Ju/'Hoansi-museum van die Living Culture Foundation Namibia op Grashoek te stig en te bestuur - ‘n opelugmuseum waar gaste die kultuur, tradisies en oorspronklike leefwyse van die San kan beleef. Daarna het !Amace by Twyfelfontein gehelp om die Damara Museum te open en toe gevra om ook in Tsumkwe sy eie museum te begin.


Tsumkwe

“My vrou, Be, kom oorspronklik van Tsumkwe af. Ons het besluit om terug te trek soontoe en 'n jagtersmuseum te begin. In Maart 2010 is die museum in die //Xa/oba-nedersetting geopen. “Die mense wat in die Nyae Nyae-bewaringsgebied woon, is die enig­stes wat nog tradisioneel mag jag. Ons kan nog steeds die diere se spore lees. Ons kan toeriste wys hoe ons met 'n pyl en boog jag. Ons kan die gif wat ons gebruik vir hulle wys, asook hoe ons voëls met strikke vang.”

By die museum is ook kampplekke, tradisionele hutte en 'n opslaantent waarin mens kan oornag.Aangesien hy so lank al by die lewende museum betrokke is, het !Amace al die nodige ondervinding en kennis van hoe om met toeriste te werk en waarna hulle op soek is.

Hy adverteer ook só op ‘n plakkaat : “Ek is 'n plaas­like toergids in Tsumkwe en die omliggende gebiede. Bespreek my vir 'n besoek aan Tsumkwe, die Khaudum Nasionale Park, tradisionele San-nedersettings, die kremetartboom en die Nyae Nyae-panne. Ons ry in jou voertuig – want ek het nie een nie.”!Amace en Be is besonders passievol oor hul tradisie en kultuur en hulle leer die kinders daarvan.“Dis vir my baie belangrik om ons kultuur te bewaar. Ek het agtergekom veral die jonger mense stel nie meer daarin belang nie. Hulle wil eerder in die kerk of sjebien sit. Ek het geen probleem daarmee om kos by 'n winkel te koop nie, maar jy moet ook kos in die bos kan soek. Die twee moet mekaar aanvul.”


Grashoek

Grashoek is ‘n klein San-nedersetting halfpad tussen Grootfontein en Tsumkwe wat deur !Amace se familie gestig is. !Amace is in die Rundu-omgewing gebore. Ná sy ma dood is, het sy pa saam met sy nuwe vrou Tsumkwe toe getrek en !Amace het op Rundu by sy suster agtergebly.“My twee broers het in my pa se voetspore gevolg en al drie was soldate in die weermag.”

In 1981 neem sy broer hom terug na sy pa toe, wat intussen Nhoma toe getrek het. !Amace bly in Nhoma agter om by Mangetti Duin skool te gaan toe sy pa weer verder trek. Daarna trek hy en sy pa Grashoek toe, waar sy familie ‘n boorgat sink. Grashoek het toe rondom die boorgat ontstaan en was aanvanklik 'n familie-nedersetting, maar meer en meer mense het eindelik soontoe getrek. Vandag is daar ‘n laerskool en ‘n koshuis.

Comentarios


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest
bottom of page