top of page

Get your advertisement here! 

Produseer sélf, sê Lyambezi groenteboer

Tanja Bause


Die lewe het kronkeldraaie met Agnes Limbo (67) geloop voor sy ná haar aftrede haar ware roeping ontdek het en die boervrou van Lyambezi Foods buite Katima Mulilo geraak het.


In 2018 begin sy tuinmaak nadat haar oorlede pa haar aangemoedig het om op bokboerdery en gewasproduksie te fokus. Selfs haar kleinkinders is nou betrokke in haar boerdery.


“Die eerste gewasse wat sy by Lyambezi geplant het, was onder meer mango’s, koejawels, papaja en tamaties. Ons het egter ons tamatieproduksie beperk om ons nuwe belangstelling, naamlik organiese boerdery, te akkommodeer,” vertel Agnes.


Sy sê die skuif na organiese gewasproduksie was vir gesondheidsdoeleindes. “Toe het ons nuwe gewasse bekendgestel wat ’n gesonde leefstyl aanhelp, soos soetpatats, aarbeie, appelliefies, verskeie kruie soos borrie en meer vrugtebome,” sê Agnes.


Kronkeldraaie

Agnes is 'n boorling van die Malundu-nedersetting in die Zambezistreek. “Ek het saam met my ouers en grootouers op die landerye gewerk en as kind reeds ’n liefde vir plant ontwikkel.”


Sy het jonk in haar lewe verpleging gaan studeer en verdere opleiding in Zambië ontvang. Naderhand verwerf sy ’n diploma in gesondheidsbestuur by die Universiteit van Leeds in die Verenigde Koninkryk en ‘n meestergraad in menslike hulpbronbestuur by die Universiteit van Manchester. Ná Namibië se onafhanklikheidswording begin sy by die ministerie van binnelandse sake werk.


“Hulle het my na Katima Mulilo verplaas, waar ek in 2001 die uitvoerende hoof van die dorpsraad geword het. Ek was vir vyf jaar in dié posisie voordat ek die politiek betree het tot my aftrede.”




Plant self

Volgens Agnes is haar besigheid vernoem na die Lyambezimeer in die ooste van die Zambezistreek – ‘n bron van vis en lewe vir mense in die Zambezi, Zambië en Botswana.


Agnes werk self saam met haar werkers in die landerye omdat ‘n goeie boer betrokke moet wees. Sy hoop om ‘n sentrum te begin waar sy mense kan leer om self kos te produseer.


“Veral die jong mense weet nie meer hoe om te plant en te kweek nie. Hulle koop alles in die winkels.


“Ek wil vir hulle ’n boom gee om by hul huise te plant sodat ons die Zambezistreek weer in ’n woud kan verander soos dit in die goeie ou dae was. Dan kan ons ook weer begin om onder mekaar kos uit te ruil.”


Agnes sê sy is dolgelukkig om haar tuin te sien blom en haar eie gewasse te kan eet. “Ek geniet my welige tuin, want dan is ek naby die natuur en God se skepping.”

Comments


oh!sixseven.png

Hi, thanks for stopping by!

Own a business? Want to reach customers in the 067-valley? We can help!

Let the news
come to you.

Thanks for submitting!

  • Facebook
  • Instagram
  • Twitter
  • Pinterest

Oh!SixSeven, telling our most inspiring stories!

Let us know what's on your mind

Thanks for submitting!

© 2035 by Turning Heads. Powered and secured by Wix

bottom of page